Ooooh, vandag raak ek aan ’n baie sensitiewe onderwerp.
Sommige vroue raak dalk nou rooi om die kieue, en party manne is seker opgewonde om dit te lees – dalk dink hulle dis hoogtyd dat hulle eggenotes hul “plek” leer ken.
Maar kom ons begin eers met wat onderdanigheid nie is nie.
Dis nie ’n baas-klaas-verhouding nie. Manne, dit beteken nie jou vrou moet vir jou ’n bier gaan haal of vir jou ’n toebroodjie smeer as jy honger is nie. Die woord wat só ’n houding beskryf, is “slaaf” of “dienaar” – en dis glad nie wat God in Sy Woord bedoel het nie.
Kom ons kyk eers na die Bybelse oorsprong van hierdie lering: Efesiërs 5:22-24
Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.
Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.
Voordat ons dieper delf in die betekenis van “onderdanigheid”, let op iets belangrik in vers 22: Vrouens moet onderdanig wees aan hul eie mans – nie aan alle mans nie.
As mans bo vrouens gestel was in waarde, sou die opdrag gewees het dat vrouens aan alle mans onderdanig moes wees. Maar dis nie wat daar staan nie.
Kom ons kyk na nog ’n teksgedeelte: Genesis 2:18
Toe het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas.”
Die woord “hulp” of “helper” is weer ’n belangrike een.
Laat ek dit aan die hand van ’n eenvoudige voorbeeld verduidelik: Stel jou voor iemand vra jou om saam met hom op reis te gaan na ’n onbekende bestemming, en hy het hulp nodig. Jy stem in en julle vertrek. Jy is nie sy slaaf, sy mindere of in enige opsig minderwaardig nie. Hy bestuur, en jy sit langs hom in die passasiersitplek. Jy help met aanwysings, jy hou hom wakker as hy moeg word, jy bied dalk selfs koffie aan of gesels lekker saam. Hy respekteer en waardeer jou vir die hulp wat jy bied.
Later stel jy voor dat julle by die volgende dorp stilhou om brandstof in te gooi, maar hy sê dis nie nodig nie en dat dit veiliger sal wees om eers later te stop. Jy’s moeg en wil graag uit die kar klim, maar julle bespreek dit en kom tot ’n kompromie: Julle stop by die volgende dorp. Al was dit nie jou voorkeur nie, is jy tevrede met die besluit.
Die volgende dag kom julle by ’n vurk in die pad. Jy glo julle moet links draai; hy glo dit is regs. Albei glo hul pad is reg, maar dis óf links óf regs – geen tussenweg nie. Jy laat hom besluit, want dis sy kar en sy verantwoordelikheid. As hy verkeerd is, dra hy die gevolge. Maar omdat jy jou rol onthou – jy’s daar om te help – hou jy nie sy fout teen hom nie. Jy doen wat jy kan om te help regmaak. Hoekom? Want daar’s wederkerige respek. Hy waardeer jou en jy hom. In hierdie vergelyking is die bestuurder die man, die helper die vrou, en die voertuig is die huwelik.
Onderwerping in die huwelik beteken nie minderwaardigheid, swakheid of onderdrukking nie. Inteendeel, dit is ’n teken van innerlike krag en karakter.
’n Vrou wat kies om met ’n gesindheid van onderdanigheid teenoor haar man te leef, is ’n vrou met ’n hart om haar man te ondersteun. Sy doen dit uit keuse. En deur hom te ondersteun, help sy hom ook om met selfrespek te leef.
Hy kan op sy beurt ontspan in haar teenwoordigheid, want selfs al sou hy foute maak, weet hy sy vrou sal nie oordeel nie, maar sal saam met hom werk om oplossings te vind. Hulle is ’n span – sterk, saamgebind, een.
Ek sluit hierdie rubriek af met ’n vriendelike waarskuwing aan die manne daar buite, myself inkluis: God het jou aangestel as leier van die huis. Jy dra die verantwoordelikheid vir die besluite wat geneem word én vir hoe jy jou vrou en kinders hanteer in die proses. Dis nie ’n lisensie tot heers nie; dis ’n oproep tot diensbaarheid, liefde en wysheid.
Gaan dus voort met nederigheid… en met groot sorg.






One Response
Interessant onderwerp, veral as dit van ‘n manspersoon kom. Die inhoud van die gesprek is egter puik.
Mag ek byvoeg; in die moderne tyd het die vereistes vir kommunikasie tussen man en vrou so “eensaam” geword omdat “menseregte” alles beheer. Ek is bevoorreg om 52 jaar getroud te wees (met dieselfde een) en was reeds met haar gekys in St 8 (las dus so 8 jaar by). Daar was nooit sprake van “onderdanigheid” nie omdat beide van ons onderdanig is aan ons Verlosser. Alles het dus in plek geval. Noudat ons ouer is vergeet ons soms snaakse goed, en dan lag ons vir mekaar in plaas van kwaad word. Dit pas ook in jou boodskap in. Dankie vir die geleentheid om te deel.