Het jy al gewonder of mense agter jou rug praat?
Die waarheid is die kans is baie goed dat selfs jou ouers, familie of naaste vriende al ’n negatiewe gesprek oor jou gehad het.
Voordat jy egter moedeloos raak of in ’n put van depressie verval, onthou: jy was self ook al skuldig daaraan. Ons almal is.
Maar hier lê die belangrike onderskeid: skinder en ’n negatiewe gesprek is nie dieselfde ding nie. Skinder is om doelbewus iemand se naam te beswadder of hulle sleg te laat lyk. Dit kan deur leuens gebeur, maar selfs die waarheid kan kwaadpraat wees as dit verkeerd hanteer word. Wanneer jy negatiewe dinge van iemand sê, vra jouself af: Is dit om my beter te laat voel, of om hulle sleg te laat lyk?
Die Bybel waarsku voortdurend teen hierdie praktyk omdat dit verhoudings vernietig, sonde versprei en God oneer aandoen. Ons word geroep om woorde te gebruik wat bou, genees en liefde wys.
Nou kan jy vra: Hoe kan ’n negatiewe gesprek dan goed wees?
Die antwoord lê in die doel en die ruimte waarin dit plaasvind. Stel jou voor ’n vriend tree verkeerd teenoor jou op. Jy voel seergemaak en verward, maar jy weet nie of jy reg of verkeerd voel nie. ’n Gesonde manier om dit te hanteer, is om dit met iemand te deel wat jy volkome vertrou – iemand wat diskreet is en wysheid het om jou eerlik te antwoord. Só kry jy perspektief, raad, en soms net die kans om stoom af te blaas.
Die verskil? Die gesprek bly tussen julle. Die persoon se naam word nie rondgedra of geskaad nie. Dis ’n veilige, gesonde proses om jou emosies en denke te orden sonder om iemand se karakter aan te val. En jy hoef nie noodwendig die persoon se naam te noem as dit nie nodig is nie.
Die Woord leer ons dat geestelik volwasse mense onderskeid kan maak tussen wat reg en verkeerd is. In my oë is dit dus nie verkeerd om ’n spesifieke insident te bespreek om raad of helderheid te kry nie – mits dit nie in karaktermoord ontaard nie.
Ek is dankbaar dat my broer so iemand vir my is. Ek weet ek kan alles met hom deel, en dit sal veilig by hom bly. Het jy so iemand in jou lewe? Ek glo dis noodsaaklik in ’n deurmekaar en onregverdige wêreld.
Wie jy ook al in jou lewe kies om na te luister of om jou hart mee te deel, kies wys. En wie ook al na jóú luister – laat hulle altyd beter voel ná jou woorde as tevore.
“Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis.”
– Spreuke 26:20





