Hierdie naweek het ek iets by die UFC gesien wat niemand gedink het moontlik is nie.
Alexander Volkanovski, die voormalige veergewigkampioen, het sy laaste kans gevat om weer kampioen te word. Die lot was swaar teen hom, en daar was talle faktore wat in sy opponent se guns getel het. UFC-statistieke wys dat niemand bo 35 nog ooit ’n titel in ’n gewigklas onder middelgewig gewen het nie -nie eers suksesvol verdedig nie. En Volk is 36… oeps.
Hy het sy laaste drie gevegte verloor, waarvan hy in die laaste twee brutaal uitgeslaan is. Die publiek het begin sê sy ken is nie meer wat dit was nie. Dat hy moet aftree. Dat hy homself die vernedering moet spaar. Want voor hom wag die jong, honger leeu van Mexiko: Diego Lopes.
En om alles te kroon, het die sogenaamde “Drake Curse” toe ook sy kop uitgesteek. Drake, die wêreldbekende sanger, het daai aand meer as R10 miljoen op Volk gesit. En almal weet – wie ook al Drake kies, verloor glo altyd.
Klink soos die perfekte storm om ’n legende se loopbaan finaal te laat sink.
Maar toe gebeur die onmoontlike: Volk wen.
En nie net op ’n flou puntebesluit nie. Hy domineer. Wen minstens vier van die vyf rondes. Die ou Volk is terug. Die legende herleef.
In sy na-geveg onderhoud sê hy nie veel nie. Maar sy woorde het die wêreld bemoedig. Ek haal losweg aan:
“Teëspoed is ’n voorreg. Dis ’n geleentheid. As jy kies om jouself terug te bou – al werk dit nie – sal jy steeds sterker wees. Maar meeste van die tyd wérk dit. Kyk net wat het met my gebeur.”
En dis darem nét so.
Die meeste van ons voel jammer vir onsself sodra teëspoed tref. Ons kla oor ons lot. Maar dalk, net dalk, is dit nie straf of ongeluk nie… maar ‘n geleentheid. Om sterker te word. Om te groei.
Teëspoed is ’n voorreg. Wees dankbaar daarvoor. Leer daaruit. Want dit geld nie net vir atlete nie – ons almal veg. By die werk, tuis, in verhoudings, teen siekte en teen ons eie vrees.
Daar is altyd een of ander vorm van teëspoed in ons lewens, dit kan ons nie verander nie. Maar weet jy wat jy wél kan verander? Jou gesindheid.
Romeine 5:3–4
“Ons verheug ons ook in ons swaarkry, want ons weet swaarkry kweek volharding, volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.”