Op 5 Januarie 2025 is die Golden Globes-toekennings in Los Angeles aangebied. Aanbieder Nikki Glaser het sekere stellings gemaak wat volgens sommige grens aan godslastering. Sy het gespot dat God – die Skepper van die heelal – geen “shoutout” punte in hierdie goddelose dorp aangeteken het nie, en die gehoor het daaroor gelag en hande geklap. Twee dae later begin die brande in LA wat verwoesting saai en sover baie lewens geëis het.
Dis verskriklik om te aanskou, en ek kry die mense vreeslik jammer wat uit hulle huise moes vlug en dit verloor het.
In 2023 het iets soortgelyks in Brasilië gebeur, waar ‘n parade was waartydens ‘n bespotting van Jesus gemaak is. Die volgende dag is die stad deur erge vloede geslaan en is groot verwoesting in die area gesaai.
Sulke gebeurtenisse vind kort-kort in ons geskiedenis plaas, en jy kan selfs so ver soos die Titanic teruggaan wat gesink het, nadat daar ‘n stelling gemaak is dat nie eens God die boot kan sink nie. Ons almal weet wat toe gebeur het.
Ek sê nie dat enige van hierdie gevalle die handewerk van die Skepper is nie, maar mens kan nie help om te wonder nie. Is daar dalk ‘n patroon? Hoekom gebeur dit net soms en nie elke keer as iemand teenoor God laster nie? Wat dink jy?
Gal. 6:7 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.





