Rudi Claase, SA-sanger, het sy oë na 12 dae in ‘n intensiewesorgeenheid van ‘n hospitaal oopgemaak. Hy is geopereer en was sedertdien gesedeer.
Suzette Claase, sy vrou, sê hy is steeds aan ‘n ventilator gekoppel, maar sal na verwagting binne die volgende twee dae daarvan gespeen word.
Claase, wat nog nie met hulle kan kommunikeer nie, was volgens ‘n plasing wat sy vrou oor sy gesondheid gedeel het aanvanklik gedisoriënteerd en benoud, maar sy dokter kon hom kalmeer en protokol aan hom verduidelik.
Suzette Claase het lof teenoor dr. Soraya Patel uitgespreek.
Dit is reeds ‘n geruime tyd wat Claase met sy gesondheid sukkel.
Op 21 November het Suzette Claase in ‘n sosialemediaplasing gesê die sanger het genoem hy moet ‘n galblaasoperasie ondergaan, maar daar is gevind hy het ingewandsprobleme weens ou littekenweefsel.
Drie operasies moes sedertdien op hom uitgevoer word. Hy is sedert 17 November in die intensiewesorgeenheid onder sedasie. Die sedasie was om sy pyn te beheer en om tyd vir herstel te gee.
Suzette het gesê dokters is tevrede met sy vordering en sy het almal vir gebede en ondersteuning bedank.
Voorts het sy gesê hulle het ‘n lang pad van herstel wat voorlê vir beplande optredes wat op 25 Februarie saam met Nederlandse kunstenaars in die Atterbury-teater gaan plaasvind.
Bron: Rudi Claase Facebook-blad
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





