Die SA-menseregtekommissie (SAMRK) in Gauteng het ‘n saak van beweerde rassisme en haatspraak teen Louis Liebenberg by die gelykheidshof ingedien.
Wisani Baloyi, woordvoerder vir die SAMRK, sê in ‘n verklaring wat Vrydag uitgereik is, hulle het hofdokumente oor die beweringe op Liebenberg gedien. Dit volg nadat die MRK op 7 November ‘n aansoek oor dieselfde beweerde uitlatings by die gelykheidshof in die Pretoria-hooggeregshof ingedien het.
“Die SAMRK bring hierdie aansoek na die gelykheidshof, nadat klagtes ontvang is oor die uitlatings deur mnr. Liebenberg in verskeie WhatsApp-stemnotas, waarin hy die k-woord herhaaldelik gebruik, na swart mense as ape verwys, asook nostalgie vir apartheid en diskriminasie toon.”
Die menseregtekommissie wil hê die hof moet die uitlatings as haatspraak verklaar.
Die SAMRK soek ‘n hofbevel vir Liebenberg om onvoorwaardelik verskoning te vra en nie haatspraak op enige sosiale media of openbare platforms te herhaal nie.





