Suid‑Afrika sal nie by die 52ste G7‑leiersberaad van 15 – 17 Junie in Evian‑les‑Bains, Frankryk, teenwoordig wees nie, nadat die land se uitnodiging teruggetrek is. Die uitsluiting kom ná druk volgens berigte glo van die VSA op Frankryk uitgeoefen is.
Vincent Magwenya, woordvoerder van president Cyril Ramaphosa, sê volgens beriggewing: “Ons het verneem dat Frankryk, as gevolg van aanhoudende druk, sy uitnodiging aan Suid‑Afrika om die G7‑vergadering by te woon, moes terugtrek. Daar word vir ons gesê dat die Amerikaners gedreig het om die G7 te boikot as Suid‑Afrika genooi sou word.”
Magwenya het bygevoeg dat Suid‑Afrika die Franse se besluitneming aanvaar en die situasie verstaan, maar het geen verdere besonderhede oor toekomstige gesprekke tussen Pretoria en Parys gegee nie. Die regering beklemtoon dat die land steeds ‘n sleutelrol in internasionale forums speel en dat deelname aan toekomstige berade steeds op die agenda is.
Franse owerhede het egter ontken dat die uitsluiting van Suid‑Afrika bloot op druk van die VSA gebaseer is. Hulle het verduidelik dat Kenia as gasland genooi is om die Afrikalande se deelname aan die beraad te verteenwoordig en dat dit deel is van ’n breër strategie om samewerking in Afrika te versterk. Die Franse president, Emmanuel Macron, beplan ‘n besoek aan Kenia gedurende April.
Die G7 is ’n informele groep van sewe gevorderde ekonomieë wat gereeld oor die wêreld se ekonomiese, politieke en veiligheidskwessies beraadslaag. Suid‑Afrika is in die verlede as gasland by sulke berade ingesluit om die belange van Afrika en die Globale Suide te verteenwoordig. Internasionale kommentators sê dat die uitsluiting ’n weerspieëling kan wees van spanning oor Suid‑Afrika se buitelandse beleid en sy verhoudings met ander groot moondhede, insluitend China en Rusland.
Bronne: Wikipedia, IOL, Polity.org.za, France Diplomacy, Business Day





