OOS-KAAP. – ’n Saagvis, wat lankal plaaslik as uitgestorwe beskou is, is op 19 September deur Mike Vincent langs die Oos-Kaapse kus gevind. Die vis, vermoedelik ’n largetooth-saagvis (Pristis pristis), is dood op die strand suid van die Birahriviermond gevind en gefotografeer.
Volgens ‘n plasing op Sharks Attack Facebook-blad en Wildoceanssa het Vincent sy vonds met Kevin Cole van die Oos-Londen-museum gedeel. Cole het onmiddellik die ikoniese rostrum herken en monsters gaan neem. Saagvisse, wat wêreldwyd tot die mees bedreigde elasmobranche behoort, is dekades lank al nie in Suid-Afrikaanse waters waargeneem nie. Die laaste lewendige vis van dié soort is gedurende 1999 uit KZN-haainette vrygelaat.
Twee spesies van saagvisse kom in Suid-Afrika voor: die groen saagvis (Pristis zijsron) en die largetooth-saagvis (Pristis pristis). Hul verdwyning word toegeskryf aan habitatverlies, kieunette en agteruitgang van riviermondings, wat kritiese teelplek soos die St Lucia- en Mhlatuze-riviermondings en Durban-baai insluit.
Volgens die plasing bied hierdie vonds ‘n sprankie hoop vir die spesie en beklemtoon die belangrikheid van die beskerming en herstel van Suid-Afrika se riviermondings en mariene erfenis. “Die vind van een saagvis beteken nie herstel nie, maar dui op moontlikhede.”
Enigiemand wat onlangs ’n saagvis gesien of gevang het, word versoek om dit aan Bernadine ([email protected]), Kevin Cole ([email protected]) of Geremy ([email protected]) te rapporteer.
SharklifeShark Conservation FundIUCN SSC Shark Specialist GroupJustice 4 JawsEast London Museum





