NOORDWES. – Wernich Botha het Dinsdag weer op aanklag van moord en poging tot moord in die hof in Klerksdorp voorgekom. Die saak is tot Maandag 23 September uitgestel.
Sivenathi Gunya, woordvoerder vir die NVG, sê die saak is uitgestel sodat ‘n prokureur kopieë van sommige dokumente kan bekom.
Botha het na bewering vir Hilton Pretorius en PW Roos op 3 September 2023 in ‘n parkeerarea van ‘n inkopiesentrum in Doornkruin, Klerksdorp, aangeval. ‘n Video-opname van die voorval is wyd en syd versprei.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Wernich Botha het in die Klerksdorp-landdroshof op aanklagte van moord en poging tot moord verskyn.
Die aanklag in die saak van poging tot moord op Hilton Pretorius (32) is na moord verander nadat Pretorius in die hospitaal oorlede is.
In die saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer het die staat die beserings wat PW Roos (44) opgedoen het, hersien en is die aanklag na poging tot moord verander.
Beide Pretorius en Roos is na bewering deur die beskuldigde aangerand.
“Sy aanklagte is nou na skedule 5 verander, maar die hof het sy borgtogstatus van R2 000 behou en hom beveel om nie met die staat se getuies in te meng nie.”
Bogenoemde sake is geregistreer waarna Botha in hegtenis geneem is, nadat hy na bewering op Sondag 3 September 2023 volgens polisieverslae na bewering vir Pretorius en Roos in ‘n parkeerarea van ‘n inkopiesentrum in Doornkruin, Klerksdorp aangerand het. Die voorval is aan die polisie rapporteer.
Beide die slagoffers is na ‘n plaaslike hospitaal geneem waarna Roos met ‘n skouerbesering en harsingskudding wat hy tydens die beweerde aanranding opgedoen het, ontslaan is.
Pretorius het weens die beserings wat hy opgedoen het in die hospitaal gesterf.
Die polisie het die video-opnames van die beweerde voorval wat op sosiale media gedeel is gesien en die publiek gevra om dit nie te versprei nie, aangesien dit met die ondersoek kan inmeng.
In beide die video’s wat deur Nuusflits gedeel was, kon gesien word hoe Botha na die “aanrandings” by beide slagoffers hurk en hulle op hulle sye draai terwyl omstanders hom beveel om pad te gee.
Lt.genl. Sello Kwena die provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, en dr. Rachel Makhari, die direkteur van openbare vervolging, het vir kalmte gevra om die staat toe te laat om hul ondersoek te voltooi om die skuldige voor die hof te bring.