Die beweerde kinderpornografiesaak teen Pierre de Vos, ‘n professor aan die Universiteit van Kaapstad, is volgens AfriForum se privaatvervolgingseenheid weer vir ondersoek heropen.
Barry Bateman van die eenheid sê die saak is deur die NVG heropen, nadat die eenheid vertoë oor tekortkominge in die ondersoekproses en in die dossier uitgewys het.
“Die oorspronklike dossier het slegs twee verklarings bevat: die verklaring van die klaer, wat in daardie stadium ’n verteenwoordiger van AfriForum Jeug was, en ’n ongetekende verklaring van De Vos.”
Bateman sê onder meer is De Vos se selfoondata, ‘n verklaring van ‘n ontleder daarvan en ‘n verklaring van ‘n “tegniese deskundige” wat De Vos glo geraadpleeg het, nie bekom nie.
“Adv. Indra Goberdan, adjunkdirekteur van Openbare Vervolging in die Oos-Kaap, het in ’n brief, wat 21 November 2024 gedateer is, gesê haar “kantoor het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) opdrag gegee om die uitstaande ondersoek te voltooi en die betrokke aanklaers versoek om verslae in verband met die besluit om nie te vervolg nie, in te dien. Hierdie kantoor is in ’n posisie om die besluit (om nie te vervolg nie) te hersien wanneer die bogenoemde ondersoek afgehandel is”.
Bateman sê op 10 September 2022 het ‘n video op die professor se X-rekening verskyn, waarin ‘n jong seun deur ‘n volwassene mishandel word. Die video is verwyder en op 18 September 2022 het die professor ‘n plasing gemaak en gesê ‘n kuberkraker het die pornografiese video op sy rekening gedeel.
“Hy het bygevoeg dat dit duidelik is dat daar niks sal kom van enige kriminele klagte wat teen hom aanhangig gemaak word nie.”
‘n Saak is op 21 September 2022, vir die beweringe van die oortreding van die wet op films en publikasie, by Humewood-polisiestasie, aanhangig gemaak. Op 28 September het die professor ook ‘n saak oor die kuberkraker-bewering geopen.
Volgens Bateman het die eenheid deur ‘n PAIA-aansoek die inligting tot die oorspronklike dossier verkry.
“Die NVG se reaksie bevestig die eenheid se siening dat die “besluit om nie te vervolg nie voortydig, irrasioneel en gegrond is op die polisie se doelbewuste pogings om ’n onvolledige ondersoek te doen. Die NVG was so verblind deur die status van die verdagte dat dit moontlik die belangrikheid van ’n ondersoek na die ernstige aard van hierdie soort misdryf misgekyk het. Die fokus bly op die beskerming van kinders, maar sluit in die beskerming van die samelewing teen die verspreiding van seksueel eksplisiete dade teen kinders.”





