Die Suid-Afrikaanse reguleringsowerheid vir gesondheidsprodukte (Sahpra) het die veiligheid van roetine-kinderinentings wat in Suid-Afrika gebruik word, herbevestig.
Sahpra sê sy beoordeling van die veiligheid en doeltreffendheid van roetine-kinderentstowwe het nie verander nie, gebaseer op die beskikbare wetenskaplike bewyse en voortdurende veiligheidsmonitering. Entstowwe word deeglik geëvalueer voordat dit geregistreer word. Die veiligheid, doeltreffendheid en gehalte van entstowwe word daarna voortdurend gemonitor terwyl dit aan die publiek beskikbaar gestel word. Inenting bly een van die doeltreffendste en veiligste maniere om kinders teen ernstige en potensieel lewensbedreigende siektes te beskerm. Die roetine-kinderinentingskedule word deur die nasionale departement van gesondheid en die nasionale instituut vir oordraagbare siektes, asook die wêreldgesondheidsorganisasie en ander openbare gesondheidsowerhede aanbeveel.
Volgens Sahpra kan die meeste ongewenste gebeurtenis ná immunisering (AEFI) gering wees. Dit kan onder meer ’n ligte koors en pyn, rooiheid of swelling by die plek waar ingespuit is, wees. Alle vermoedelike ernstige AEFI’s moet aangemeld word. Elke aangemelde geval word ondersoek om vas te stel of die entstof die ongewenste gebeurtenis veroorsaak het. Die reguleringsowerheid moedig ouers en versorgers aan om die riglyne van Suid-Afrika se uitgebreide program vir immunisering (EPI-SA) te volg en met ’n gesondheidswerker te praat indien hulle vrae of kommer oor inentings het.
Sahpra sê Suid-Afrikaners behoort inligting oor entstowwe van betroubare, bewysgebaseerde bronne te verkry.
Druk hier om meer te lees.