GAUTENG. – ’n 57-jarige sakeman sal na verwagting op Donderdag 18 Junie in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn nadat hy op Jeugdag deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaadondersoeke op OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem is. Die man het van die VSA af gekom, waar hy aangehou was.
Kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, sê die verdagte staan tereg op aanklagte van bedrog, diefstal, vervalsing, die gebruik van vervalste dokumente en oortreding van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite.
Die inhegtenisneming volg op ’n uitgebreide ondersoek na beweerde bedrog met die verkoop van eiendomme wat aan die Johannesburg Property Company behoort, ’n entiteit wat ten volle deur die Stad Johannesburg besit word.
Volgens die ondersoek is verskeie eiendomme reeds in Mei 2010 glo onregmatig aan niksvermoedende kopers verkoop. Hoewel die eiendomme oorgedra en verkoop is, het die Johannesburg Property Company glo nooit betaling ontvang nie, wat tot beduidende finansiële verliese gelei het.
Die sake is aanvanklik by die Sandton- en Boschkop-polisiestasies aangemeld en later vir verdere ondersoek aan die Valke verwys. Ondersoeke duur steeds voort.
Die man se naam is aan Nuusflits bekend, maar mag nie voor sy verskyning bekend gemaak word nie.





