GAUTENG. – ‘n Pakistani-sakeman is Maandag in Sebokeng gered, terwyl ‘n vroulike “ontvoerder” (46) op aanklag van moord en ontvoering in hegtenis geneem is.
Lt.kol. Amanda van Wyk sê volgens ‘n voorlopige verslag het drie mans in ‘n BMW die sakeman ongeveer twee maande gelede in Lenasia ontvoer. Daar is dadelik ‘n losprys vir hom geëis. Verskeie polisie-eenhede het ondersoek ingestel en ‘n wenk oor die ligging van moontlike verdagtes in Sebokeng ontvang. Tydens deursoeking van die eiendom is die slagoffer in ‘n kamer gekry en die liggaam van nog ‘n man op dieselfde perseel ontdek.
Die vroulike verdagte is op die toneel gearresteer. Die polisie het op twee selfone wat deel van die ondersoek is, beslag gelê.
Van Wyk sê meer inhegtenisnemings word verwag.





