Zinré Stevens van Centurion leef tans haar Bucket List of Memories uit en is onlangs deur die sanger Dirk van der Westhuizen besoek. Om die sanger te ontmoet, was een van haar wense.
Mamma Vicaela sê aan Nuusflits Zinré is gedurende Februarie 2023, net na haar 5de verjaarsdag op 10 Januarie, met Ewing Sarkoom-beenkanker gediagnoseer. Zinré was al vir drie operasies om die kanker te verwyder. Haar regterarm is ook tydens een van die operasies verwyder. Die Ewing Sarkoom het na haar longe versprei en die kanker is tans in stadium 4 wat haar terminaal siek maak.
“Ons en die dokters vermoed dit het klaar na ander plekke soos haar bene en brein versprei, aangesien sy erge pyn in haar heupe het en baie moeilik loop. Maar ons as haar ouers het besluit om nie verdere toetse te doen nie.”
“As haar ouers wil ons dankie sê vir elke borgskap, item en donasie wat gemaak is om by te dra tot die sukses van Zinré se lysie. Ons waardeer ook al die boodskappe van bemoediging en gebede wat na ons kant toe kom. Ons hoop daar word meer mediablootstelling van hierdie tipe kanker gemaak, sodat daar meer kommunikasie is en hopelik meer navorsing gedoen sal word om beter uitkomste vir die tipe kanker te bied.”
Dirk van der Westhuizen het gesê Zinré het ‘n Barbie-huis, maar nie ‘n Barbie nie en hy, saam met Select Music, het dit vinnig reggestel. Hy vra of nog iemand nie vir Zinré ‘n Barbie wil skenk nie.
Deel van Zinré se wense, soos hier onder gesien kan word, is om geskenke en partytjiepakke vir ander kankerpasiënte te gee.
Die familie het op 19 Julie die ondenkbare nuus ontvang dat daar nie veel meer vir Zinré gedoen kan word nie. Met die kanker wat na haar longe versprei het, sal die jong meisie waarskynlik nie nog ‘n Kersfees beleef nie.
Die familie fokus tans daarop om al haar wense waar te maak, afhangend van hoe Zinré op ‘n betrokke dag voel. Zinré en haar sussie het onlangs ‘n draai by ‘n spa gemaak om hulle naels te laat doen en die Pretoria-dieretuin besoek. Al rus en slaap Zinré meestal omdat haar energie afneem, kon sy tog ‘n paar dae mooi herinneringe saam met haar gesin by uShaka Marine World en The Hidden Forest Wildlife Sanctuary maak.
Besoek jy haar Facebook-blad, kan jy sien watter avonture sy en haar familie beleef. Zinré se mamma het ‘n video gedeel toe die meisie onlangs die see vir die eerste keer gesien en ervaar het. Kyk die spesiale oomblikke hier onder:









