Ruhan du Toit, die gewilde Suid-Afrikaanse sanger, het op sosiale media geskryf dat sy vrou, Marinda, met myocarditis gediagnoseer is — ‘n ontsteking van die hartspier. Dit kom nadat ‘n sluimerende Coxsackie-virus weer aktief geraak het weens haar immuunstelsel wat verswak het.
Hy sê dis die rede waarom hulle die afgelope weke so stil op sosiale media was. Die enigste sigbare simptoom was dat Marinda uitsonderlik vinnig tydens oefening moeg geraak het. Danksy sportdokter Dr. Merchen Naudé se vinnige diagnose kon verdere hartskade egter voorkom word. Marinda is aangeraai om oefening tot einde Augustus uit te stel, sodat haar hart behoorlik kan herstel.
Ruhan se boodskap is duidelik: “Luister na jou liggaam. Gesondheid bly belangriker as enige workout.”
Lees die boodskap hier onder:
“Ons was die afgelope paar weke bietjie stiller as gewoonlik. ’n Tyd van introspeksie, aanpassing en ’n paar mediese haakplekke. Marinda is onlangs gediagnoseer met myocarditis (inflammasie van die hartspier) nadat ’n ou Coxsackie-virus weer aktief geraak het weens ’n dip in haar immuunstelsel. Dis iets wat baie mense waarskynlik al onbewustelik as kinders gehad het. Die enigste werklike simptoom was dat sy ongelooflik vinnig moeg geraak het tydens oefening — iets wat ons aanvanklik sommer aan fiksheid of oorwerk toegeskryf het. dis
Danksy Dr. Merchen Naudé, ons sportdokter, se vinnige reaksie kon verdere skade voorkom word. Sy is sterk aangeraai om alle oefening te stop tot einde Augustus sodat die hartspier behoorlik kan herstel. Die FOMO is baie real en die feit dat sy voorlopig minder drukkies mag gee weens die risiko om siek te word, maak dit nie makliker nie… maar sy is OK, en met die nodige rus sal sy binnekort weer haar ou self wees.
Ek dink baie van ons druk maar deur wanneer ons onder die weer is. Ek was self altyd geneig om dit af te maak as “ouvrou stories” wanneer mense sê jy moet rus… maar hierdie ervaring het definitief my perspektief verander. Luister na jou liggaam. Gesondheid bly belangriker as enige workout.”





