MPUMALANGA. – Johannes de Beer (52) voormalige werknemer van SANParke, is Dinsdag op ‘n aanklag van inbraak by die polisie se stoorkamer vir die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies op Skukuza gearresteer. Hy is in die hof op R1 000 borg vrygelaat en die saak is tot 10 Maart uitgestel.
JP Louw en Isaac Phaahla, vir kommunikasiedienste van SANParke, sê die inbraak was op 23 Januarie. Die verdagte het vandag (Woensdag) op aanklagte in die Masoyi-landdroshof voorgekom. Die verdagte het intussen uit sy werk by SANParke bedank.
Brig. Donald Mdhluli sê eiendom van die staat is tydens die inbraak gesteel. Dit sluit misdaadtoneelsakke met toerusting wat op renosterstropingstonele gebruik word in. Na bewering het die verdagte op die betrokke dag die stoorkamer oopforseer om toegang te verkry. Buiten die misdaadtoneelsakke is daar onder meer ook skoonmaakmiddels en ‘n stel messe gebuit. Tydens die ondersoek is bevind daar is vermoedelik twee keer deur De Beer ingebreek. Lede van die eenheid het onraad gemerk en ondersoek ingestel, waarna die misdaad ontdek is. ‘n Saak is oopgemaak en met ondersoek is die verdagte gearresteer en aangekla.
“Daar word ook beweer dat die verdagte probeer het om sy spore dood te vee deur sommige items weer terug te plaas, maar al sy pogings was vrugteloos, aangesien hy aan die einde vasgetrek is. Die bedoeling en motief agter hierdie inbraak sal deel vorm van die polisie se ondersoek.”
Mdhluli sê meer aanklagtes kan moontlik teen De Beer gemaak word.





