Brekende Nuus
Nuus

SAPD reageer ná bewerings van uitsluiting oor meer as miljoen aansoeke

Foto: SAPD

GAUTENG. – Die polisiediens het altesaam 1 049 998 aansoeke in die huidige werwingsproses ontvang. Op bewerings wat op sosiale media versprei dat die huidige groep nuwe polisierrekrute uitsluitlik uit swart aansoekers bestaan, het die polisie gesê die samestelling van die groep weerspieël die groot verskil in die aantal aansoeke wat van die verskillende bevolkingsgroepe ontvang is.

Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê van die aansoeke was 1 079 wit aansoekers, 3 047 Indiese aansoekers, 53 797 bruin aansoekers, terwyl die oorweldigende meerderheid aansoeke van die swart bevolkingsgroep afkomstig was. Van die aansoekers met geldige bestuurslisensies wat voorkeur gekry het, was 556 wit, 1 722 Indiër, 11 743 bruin en 291 591 swart aansoekers. Die SAPD beklemtoon dat die samestelling van die nuwe groep nie die gevolg is van ’n besluit om enige bevolkingsgroep uit te sluit nie, maar die resultaat is van die aansoekerspoel en die voorgeskrewe werwings-en-keuringsproses.

Die diens moedig jong mense uit alle bevolkingsgroepe aan om toekomstige werwingsgeleenthede te benut en sê geteikende uitreikaksies sal ook gedoen word om gemeenskappe wat tans onderverteenwoordig is, aan te moedig om die polisie as ’n loopbaan te oorweeg.