OOS-KAAP. – Die polisie op Despatch waarsku motoriste om versigtig te wees nadat voertuie glo die afgelope naweek op die R75 met klippe bestook is. Motoriste word daaraan herinner dat hul veiligheid eerste kom en dat hulle nie hulself in gevaar moet stel deur in ’n afgeleë gebied te stop nie.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê die voorvalle is in die omgewing van Despatch aangemeld en het volgens die polisie tot skade aan voertuie gelei. Die polisie waarsku egter dat die gooi van klippe moontlik gebruik kan word om motoriste te dwing om langs die pad te stop, waarna hulle kwesbaar vir roof kan wees. Motoriste wie se voertuie deur klippe getref word, word aangeraai om, waar moontlik, aan te hou ry totdat hulle ’n veilige, goed beligte en besige gebied bereik voordat hulle stop om die skade te ondersoek of hulp te ontbied.
Die Despatch-polisie het patrollies in die betrokke gebied verskerp en ondersoek die aangemelde voorvalle. Die polisie doen ’n beroep op motoriste om waaksaam te wees en bewus te bly van hul omgewing wanneer hulle die R75 gebruik. Motoriste moet na die naaste polisiekantoor of ’n veilige gebied met mense teenwoordig ry indien hulle vermoed dat hulle geteiken word. Verdagte aktiwiteite of persone moet onmiddellik by die polisie aangemeld word. Vermeende oortreders moenie genader of gekonfronteer word nie.
Enigiemand wat die voorvalle gesien het of oor inligting beskik wat die ondersoek kan help, word versoek om met die polisie in verbinding te tree.