Sassa het begunstigdes wie se maatskaplike toelaes tans hersien word, in kennis gestel dat hulle hul Augustus-toelaes op Vrydag 7 Augustus 2026 sal ontvang en nie tydens die gewone driedaagse betaalsiklus nie.
Dr. Paseka Letsatsi, Sassa-woordvoerder, sê begunstigdes wat nie hul toelaes op 4, 5 of 6 Augustus ontvang nie, moenie paniekerig raak nie, aangesien hulle moontlik deel van die hersieningsproses is. Nadat die betaling op 7 Augustus gemaak is, moet begunstigdes gedurende Augustus hul naaste Sassa-kantoor besoek om die hersiening af te handel. Indien hulle nie reageer nie, kan hul toelaes opgeskort of beëindig word.
Sassa sê begunstigdes wat vir hersiening gekies is, word per SMS in kennis gestel. Hulle word daaraan herinner dat hulle kontakbesonderhede op datum gehou moet word. Die nodige ondersteunende dokumente moet saamgeneem word om hul geskiktheid vir die toelae te bevestig wanneer hulle vir die hersiening aanmeld.








