Die Suid-Afrikaanse reguleringsowerheid vir gesondheidsprodukte (Sahpra) het spesifieke lotte Citro-Soda Regular onttrek, ná ’n moontlike kontaminasierisiko wat by ’n vervaardigingsfasiliteit in Johannesburg geïdentifiseer is.
Volgens Sahpra hou die onttrekking verband met sekere lotte wat by die Adcock Ingram Clayville-fasiliteit vervaardig is. Die produkte wat geraak word, is Citro-Soda Regular 60 g, 120 g en 4 g x 30 sakkies. Die owerheid sê die besluit is as ’n voorsorgmaatreël in die belang van openbare veiligheid geneem.
Sahpra versoek gesondheidswerkers en verspreiders om onmiddellik op te hou om enige van die geaffekteerde groepe Citro-Soda Regular op die onttrekkingslys te verkoop, maar dit terug te stuur na die oorspronklike verskaffingspakhuis of verspreidingsentrum. Adcock Ingram Limited sal die voorraad by groothandelaars en verspreidingsentrums insamel en die betrokke rekeninge dienooreenkomstig krediteer. Verspreiders word ook versoek om die kennisgewing vir minstens ’n maand op ’n sigbare plek te hou, ingeval daar nog voorraad in omloop is.
Verbruikers wat enige van die genoemde produkte in hul besit het, word versoek om dit na die plek van aankoop terug te neem vir ’n terugbetaling of vervanging. Vir meer inligting oor die produk kan Adcock Ingram se kliëntediens by 0860 ADCOCK / 232625 gekontak word. Die publiek sowel as gesondheidswerkers word aangemoedig om enige newe-effekte ná die gebruik van gesondheidsprodukte of ná inenting via die Med Safety App aan te meld, sodat die veiligheid van hierdie produkte doeltreffend gemonitor kan word.
Druk hier om die lotte te sien wat onttrek is.





