VRYSTAAT. – ‘n Senior bestuurder (48) van Mangaung-metromunisipaliteit is Donderdagmiddag omstreeks 15:45 doodgeskiet toe hy van sy werksplek wou wegry.
Kapt. Loraine Earle sê die oorledene het pas sy kantoor verlaat en was saam met ‘n kollega in sy voertuig. ‘n Skieter het die voertuig genader en op die bestuurderskant losgebrand. Die bestuurder is op die toneel dood verklaar, terwyl die passasier vir skok behandel is.
“Die besonderhede van die oorledene kan nie bekend gemaak word voordat die naasbestaandes formeel ingelig is en hom dienooreenkomstig uitgeken het nie.”
Vier afgevuurde koeëldoppe is by die voertuig gevind.
‘n Moordsaak word ondersoek.
Enigiemand met inligting word gevra om sers. Morena Machalotsa by 073 729 1732 te bel.





