LIMPOPO. – Sers. Rachel Kutumela (43), gestasioneer te Senwabarwana-polisiestasie, Annah Shokane (47), Kutumela se ouer suster en ‘n verpleegster by Cintocare-privaathospitaal in Menlyn en Madjadji Shokane (23), ‘n versorger by ‘n ouetehuis in Pretoria-Noord, het borg in die Polokwane-landdroshof laat vaar.
Mashudu Dzhangi, woordvoerder vir die NVG, sê al die verdagtes bly in aanhouding. Hulle staan op 32 aanklagte tereg, wat nege aanklagte van moord, asook van geldwassery, ontvangs van opbrengs uit onwettige aktiwiteite, bedrog en regsverydeling insluit.
“Daar is aanvanklik van die beskuldigdes verwag om voort te gaan met hul borgtogaansoek; hul prokureur het egter die hof ingelig dat hulle besluit het om die borgtogverhoor te laat vaar.”
Dzhangi sê Kutumela en Shokane het na bewering op bedrieglike wyse lewens-, ongeluks- en begrafnisversekeringspolisse van verskeie slagoffers bekom. Hulle het ongeveer R20 m. as enigste begunstigdes geëis en het die geld gedeel.
Gedurende die borgverhoor het Rachel Kutumela erken sy het R500 000 in 2020 na Shokane oorgeplaas om ‘n Toyota Land Cruiser en ‘n Range Rover op ‘n veiling in Pretoria te koop. Covid-inperkings het verhoed dat sy eienaarskap kon oorplaas en beide die voertuie is in Shokane se naam geregistreer.
“Die beskuldigdes het glo verskeie versekeringsuitbetalings van verskeie diensverskaffers, insluitend Absa, Standard Bank, Capitec, Hollard, Sanlam, King Price, First National Bank, Assupol, Old Mutual, Onelife en Clientele, ontvang.”
Die misdade het van 2013 tot 2024 voortgeduur.
“Verskeie versekerde individue het onder verdagte omstandighede gesterf. Tragies genoeg sluit die gevalle ‘n vrou wat in haar shack verbrand en ‘n gestremde man wat in ‘n dam verdrink het, in. Slagoffers was van Soweto, Sebokeng, Matlerekeng, Lebowakgomo en Seshego, met een slagoffer ‘n oom van die beskuldigde.”
Die saak is vir verdere ondersoek tot 7 Februarie 2025 uitgestel. Die verdagtes bly in aanhouding.






