Sersant gearresteer ná skietdood van vrou en huiswerker

Lees ook :

Foto: SAPD

LIMPOPO. – ‘n Polisiesersant (44) wat Dinsdagaand op die vlug geslaan het nadat sy vrou en huiswerker doodgeskiet is, is Donderdagaand na ‘n oor-en-weer-skietery met die polisie gearresteer.

Brig. Hlulani Mashaba sê die verdagte is tydens ‘n operasie van Vhembe-polisie se distrikstaakspan in die Makuya-polisiëringsarea opgespoor.

“Hy is opgemerk waar hy teen ‘n hoë spoed op die Tshitavhapad, langs die Sambandoubrug ry.”

Toe lede probeer om hom te stop, het die verdagte op hulle geskiet en hulle het teruggeskiet. Die verdagte is gewond en nog ‘n polisiebeampte het ‘n geringe besering opgedoen.

“Die polisie het ‘n dienspistool en ammunisie gevind. Beide die verdagte en die beseerde beampte is vir mediese behandeling na ‘n plaaslike hospitaal vervoer.”

Mashaba sê Opod, die polisiewaghond, sal die saak van die skietery hanteer.

“Ons wens die beseerde lid ‘n spoedige herstel toe en verseker die publiek die verdagte sal deur die gevolge van sy optrede in die gesig gestaar word, veral vir sy weiering om oor te gee en die geweld wat hy teenoor beamptes getoon het. ‘n Spesiale waardering gaan aan ons lede wat verseker het dat die verdagte vinnig aangekeer word. Hierdie saak sal noukeurig gemonitor word om te verseker dat geregtigheid geskied,” sê lt.genl. Themi Hadebe, die provinsiale kommissaris.

Die verdagte sal na verwagting binnekort op twee aanklagte van moord en ‘n aanklag van poging tot moord in die Masisi-landdroshof verskyn.

Nuusflits het voorheen berig ‘n polisiesersant se arrestasie is deur lt.genl. Thembi Hadebe beveel, nadat die polisielid glo Dinsdagaand sy vrou en die huiswerker doodgeskiet het.

Volgens brig. Hlulani Mashaba is die Masisi-polisie na die toneel in die Vhembe-distrik ontbied. Met aankoms van die polisie en paramedici is die vroue in ‘n plas bloed aangetref. Beide is dood verklaar.

“Die polisie sal alles in hulle vermoë doen om die verdagte, dood of lewend, op te spoor,” het lt.genl. Hadebe belowe.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief