LIMPOPO. – Sers. Rachel Shokane Kutumela (43), se suster (47), wat ‘n verpleegster is, en haar dogter (27), is ook vir hulle beweerde aandeel aan ses moorde vir die doel om versekeringsgeld van slagoffers te eis, gearresteer.
Brig. Athlenda Mathe sê die twee is in die Mabokelele-woonbuurt in hegtenis geneem nadat ‘n J50-lasbrief vir arrestasie bekom is.
Beide sal vandag op aanklagte van moord, bedrog en geldwassery in die Polokwane-landdroshof voorkom. Kutumkela verskyn ook vandag vir haar borgaansoek in die hof.
Nuusflits het berig Kutumela het slagoffers na bewering verdrink of verbrand. Kutumela het op ses aanklagte van moord en 12 aanklagte van regsverydeling in die Polokwane-landdroshof tereggestaan.
Die sersant, wat op foto’s sonder haar rangkentekens verskyn, het na bewering haar slagoffers sedert 2019 vir versekeringsgeld vermoor. Slagoffers se liggame is op verskeie plekke gelos. ‘n Vrou is in haar sinkhuis verbrand en ‘n gestremde man se liggaam is verdrink in ‘n dam aangetref.
Mashudu Malabi Dzhangi, woordvoerder vir die NVG, sê meer inhegtenisnemings word verwag. Kutumela het na bewering op bedrieglike wyse lewenspolisse en en begrafnisversekering op verskeie slagoffers uitgeneem. Sedertdien het Kutumela as enigste begunstigde R10 m. van verskeie maatskappye, insluitend Absa, Standard Bank, Capitec, Hollard, Assupol, Old Mutual, Onelife en Clientele Life, geëis.
Die saak is vir borgaansoek tot 18 Oktober uitgestel. Die verdagte bly in aanhouding.
Nuusflits het voorheen berig ‘n polisiesersant is vir beweerde versekeringsmoord vasgetrek, nadat sy sedert 2019 die begunstigde van haar slagoffers se polisse was en toe reeds haar vermeende moordtog begin het.
“Haar slagoffers was aan haar bekend en was van behoeftige en benadeelde agtergrond en sommige was gestrem of verstandelik gestrem.”
“Ná maande se ondersoek het die ondersoekspan ’n lasbrief vir arrestasie bekom. Die lasbrief is by die polisiestasie uitgevoer, waar sy in hegtenis geneem is.”





