NOORDWES. – Ses persone, van wie drie vroue, is op slag dood toe twee voertuie Saterdagaand om 20:00 op die pad tussen Klerkskraal en Welverdiend reg van voor met mekaar gebots het.
Charles Matlou, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur, sê daar was altesaam 10 insittendes in beide die voertuie. Vier van die oorledenes was in die een voertuig waarin ses insittendes was. Beide die bestuurders van die voertuie is oorlede.
Vier insittendes wat ernstige beserings opgedoen het, is na ‘n hospitaal vervoer.
Matlou bevestig die Klerkskraal-polisiestasie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





