OOS-KAAP. – Ses vemeende transitorowers is Maandagmiddag na ‘n skietery met die polisie gearresteer toe ‘n gepantserde kontantwa op ‘n roete na Kwazakhele in ‘n lokval gelei is.
Volgens adj.off. Ndiphiwe Mhlakuvana van die Valke het ‘n G4S gepantserde kontantwa op die roete vanaf die Sasol-vulstasie op die M17 naby Motherwell gery toe dit deur ‘n aantal verdagtes in twee wit bakkies in ‘n lokval gelei is. Die gepantserde kontantwa is deur ‘n koeëlreën tot stilstand gedwing, waarna springstof gebruik is om toegang tot die kontant te verkry. Die verdagtes het ‘n onbekende bedrag geld van die drie veiligheidswagte wat in die skietery gewond is, geroof.
‘n Multidissiplinêre span het onderweg na die misdaadtoneel op verdagtes in ‘n bakkie afgekom wat op hule geskiet het. ‘n Oor-en-weer-skietery het ontstaan, waarna die verdagtes in die rigting van Kwazakhele gevlug het. Hulle het in ‘n stadium uit die bakkie gespring en ‘n Audi A1 al skietende gekaap. Baie gou het hulle ook uit die Audi gespring en te voet verder gevlug. Die polisie het ses verdagtes, van wie vier beseer is, gearresteer.
Vyf gewere, twee pistole en geldsakke van G4S wat geld bevat, handskoene en balaklawas is gekonfiskeer. ‘n Wenk het die polisie na die tweede bakkie, wat verlate in die Soweto-woonbuurt in Gqeberha gelaat is, gelei.
Die verdagtes verskyn vandag in die Motherwell-landdroshof.





