GAUTENG. – Ses verdagtes is aangekeer na die skietdood van Luke Fleurs (24), die Kaizer Chiefs-sokkerspeler op 3 April in Honeydew by ‘n vulstasie.
Lt.kol. Mavela Masondo sê ‘n span het Woensdagoggend die verdagtes in Slovoville in Soweto in hegtenis geneem. Fleurs se voertuig, wat reeds uitmekaargehaal is, is Maandag teruggevind. Die polisie glo die verdagtes is deel van ‘n sindikaat wat vir kapings in Gauteng verantwoordelik is. Meer verdagtes word gesoek.
Masondo sê die span wat deur lt.genl. Tommy Mthombeni, die provinsiale kommissaris, saamgestel is, staan onder leiding van genl.maj. Mbuso Khumal en het dag en nag gewerk om die deurbraak te maak.
Die verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Roodepoort-landdroshof verskyn.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Luke Fleurs (24), professionele premierskap sokkerspeler van Kaizer Chiefs, is Woensdag in Honeydew omstreeks 20:30 by ‘n vulstasie buite sy voertuig doodgeskiet, waarna dit gekaap is.
Lt.kol. Mavela Masondo sê volgens petroljoggies het die oorledene by ‘n vulstasie op die hoek van 14de Laan en Hendrik Potgieterstraat in sy rooi WV Golf 8 GTI vir diens gewag. Twee gewapende verdagtes van ‘n wit BMW 1 Reeks het hom glo gekonfronteer, uit sy voertuig forseer en in die bolyf geskiet. Hierna het die verdagtes met die oorledene se voertuig weggery. Die verdagte voertuig het ook agterna weggery.
Die slagoffer is na die naaste mediese sentrum geneem waar hy dood verklaar is.
Lt.genl. Tommy Mthombeni het ‘n span gesoute speurders getaak met die ondersoek na die moord en kaping. Die verdagtes word gesoek. Enigiemand met inligting word versoek om na vore te kom.
Kaizer Chiefs het die volgende plasing gemaak:
It is with a great deal of sadness that we announce that Kaizer Chiefs player, Luke Fleurs tragically lost his life last night during a hijacking incident in Johannesburg.
Our thoughts and prayers are with his family and friends at this difficult time.
The SAPS are handling the matter and further details will be communicated in due course.
May his dear soul rest in peace.





