GAUTENG. – ‘n Meisie (6), ‘n gr. R-leerling van die Laer-mynskool Letsatsing in Carletonville, het Vrydag gesterf in wat as ‘n fratsongeluk met ‘n skoolbus beskryf word.
Steve Mabona, departementele woordvoerder, het die insident bevestig en sê die leerling het ernstige beserings opgedoen toe sy die oggend in ‘n skoolbus geklim het om skool toe te gaan. Sy is na die Carletonville-hospitaal geneem, maar is later die middag aan haar beserings oorlede.
Wetstoepassingsowerhede ondersoek tans die omstandighede van die ongeluk. GDO-amptenare sou Sondag die oorledene se familie besoek. Die departement se psigo-sosiale ondersteuningspan sal ook beskikbaar wees vir die familie, skoolgemeenskap, leerders en opvoeders.
Matome Chiloane, die Gauteng-LUR vir onderwys, het medelye met die familie van die meisie uitgespreek.





