LIMPOPO. ‘n Seun (10) word gesoek nadat hy Dinsdag in die Martinique-woonbuurt in Abbotspoort in die Phalalarivier waar hy saam met vriende geswem het, deur ‘n krokodil gegryp is.
Kol. Malesela Ledwaba sê die voorval het in die Villa Nora-polisiëringsarea gebeur toe jong seuns in ‘n rivier met krokodille gaan swem het.
Na bewering het die ander seuns gesien hoe ‘n krokodil die seun gryp en het na die woonbuurt gehardloop om hulp van volwassenes te kry. Die polisie is na die toneel ontbied, waarna die provinsiale soek-en-reddingspan geaktiveer is.
Tydens die polisie se soektog is krokodille gesien, maar lede vandie gemeenskap het steeds die rivier oorgesteek. Tegnieke is deur die soekspan gebruik om die krokodille te laat wegbeweeg sodat die soektog kon voortgaan maar die seun se liggaam is nie gevind nie.
Die soektog na die seun duur voort.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.





