GAUTENG. – Shabeir Ismail (66) is Dinsdagaand omstreeks 22:45, na bewering deur sy seun, by sy huis in Baardstraat, Raslouw, naby Laudium, doodgeskiet. Dit blyk asof ‘n huishoudelike dispuut tussen pa en seun handuit geruk het.
Kapt. Johan van Dyk, Tshwane-polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits polisiebeamptes is na ‘n skietvoorval ontbied. Die jonger man het glo tydens ‘n argument ‘n vuurwapen te voorskyn gebring en die ouer man geskiet. Die vuurwapen sal forensies ondersoek word. Die oorledene se seun is op die toneel vir moord in hegtenis geneem en by Wierdabrug-polisiekantoor aangehou.
Die ondersoek duur voort. Die verdagte sal na verwagting Donderdag in die hof verskyn.
Die oorledene is deur die Laudium Sun geïdentifiseer as ‘n voormalige balju wat in Pretoria-Wes en Pretoria-Sentraal diens gedoen het. Hy sal vanmiddag ter ruste gelê word.





