LIMPOPO. – ‘n Seun (11) het glo per ongeluk Saterdagoggend op ‘n plaas in die Thabazimbi-gebied ‘n plaaswerker doodgeskiet. Pa (43) en seun sal na verwagting vandag op ‘n moordklag in die Thabazimbi-landdroshof verskyn.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê polisiebeamptes is omstreeks 05:45 na die toneel van ‘n skietvoorval ontbied waar die liggaam van ’n man, na raming in sy dertigs, op sy sy met ’n skietwond in die boonste linkerkant van sy bors aangetref is. Nooddienspersoneel is ontbied, maar die slagoffer is op die toneel dood verklaar.
’n Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die 11-jarige seun glo na tarentale geskiet het, toe die vuurwapen per ongeluk afgegaan het en die plaaswerker noodlottig getref het. Die pa is op aanklag van die nalatige hantering van ’n vuurwapen in hegtenis geneem. Die vuurwapen en patroon is in beslag geneem vir verdere ondersoek.
Beide die kind (ingevolge die Kinderregwet) en sy pa sal in die landdroshof in Thabazimbi verskyn.
Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris, het haar kommer oor die voorval uitgespreek: “Hierdie hartseer voorval herinner ons daaraan dat vuurwapens altyd met uiterste versigtigheid hanteer en veilig geberg moet word. Ouers en voogde moet toesien dat kinders onder geen omstandighede toegang tot vuurwapens het nie.”
Polisieondersoeke duur voort.





