AUSTRALIë. – Bentley (10) het glo Sondag in ongeveer 35 grade Celsius tydens ‘n hittegolf in die kattebak van ‘n motor in Mooroopna in die noorde van Victoria gesterf.
Die neurodiverse seun het saam met sy ma vriende besoek toe die tragedie na 15:00 plaasgevind het. Bentley het saam met vriende gespeel toe hy vasgekeer is. Volgens ‘n paramedikus het sy hart gaan staan. Sy ouma is twee weke vantevore oorlede.
‘n GoFundMe page is deur Lainey Sutton, Bentley se tannie, ingestel om vir sy begrafniskostes te kan betaal. Ongeveer 75 % van die nodige geld is reeds ingesamel.
“In ’n tragiese einde aan ’n wegkruipertjie-speletjie het ons wêreld tot stilstand gekom. As ‘n familie is ons harte gebreek terwyl ons ‘n sin probeer vind in ‘n plek wat nie meer heel voel nie.”
Die polisie ondersoek Bentley se afsterwe, maar dit word nie as verdag hanteer nie.
Neurodiversiteit verwys na die variasies in die menslike brein wat betref sosiale gedrag, leervermoë, aandag, buie en ander geestelike werkinge in ‘n niepatologiese sin. Die term is in 1998 geskep deur die sosioloog Judy Singer, wat saam met die joernalis Harvey Blume gehelp het om die begrip gewild te maak.
Bronne: 1 News, Sky News en GoFundMe





