LIMPOPO. – Silah Phillemon Moila (55) is in die Tzaneen-streekhof tot twee keer lewenslange en ‘n bykomende ses jaar tronkstraf gevonnis nadat hy op 24 Februarie 2024 sy bejaarde ma (91) verkrag en vermoor het.
Mashudu Malabi-Dzhangi, streekwoordvoerder vir die NVG, sê die hof het gehoor dat Moila, wat van Ga-Ntata-dorp is, sy bejaarde ma omstreeks 22:00 in haar kamer gekonfronteer en geld geëis het om alkohol te koop. Nadat sy aangedui het dat sy nie geld het nie, het hy haar verkrag en vermoor. Moila het op die aanklagte teen hom skuldig gepleit en die staat het sy pleit aanvaar.
Emmanuel Phatudi, die staatsaanklaer in die saak, het ter verswaring van die vonnis aangevoer dat die slagoffer op ‘n pynlike en vernederende wyse aan die hande van haar eie seun, wat haar moes beskerm, gesterf het. Die staat het aangedui dat, om skuldig te pleit, nie genoegsame rede is om van die voorgeskrewe minimum-vonnis van lewenslank af te wyk nie. Antolize Lamminga, die streeklanddros, het bevind dat daar geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan wat ‘n ligter vonnis regverdig nie.
Adv. Ivy Thenga, die direkteur van opgenbare vervolging in die provinsie, het die vonnis verwelkom. Sy het Phatudi, die aanklaer, en sers. Sizeka Ngobeni van Mokwakwaila-polisiekantoor, die ondersoekbeampte, geprys vir hul deeglike werk wat tot die skuldigbevinding gelei het.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]






One Response
Bring terug die doodstraf.Hy verdien nie om nog deel te wees van n lekker lewe in die tronk nie.