Brekende Nuus
Misdaad

Sewe in hof nadat hulle glo by myn roof – veiligheidswag sterf

LIMPOPO. – Sewe verdagtes tussen die ouderdomme van 24 en 44 jaar het gister (Donderdag) op verskeie aanklagte in die Giyani-landdroshof verskyn. Dit kom nadat hulle straks aan ‘n gewapende roof by Hlaneki-myn in die Gyani-polisiëringsgebied gekoppel kon word.

Volgens kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, het die gewapende roof op Vrydag, 24 April, om ongeveer 23:00 plaasgevind. Ongeveer agt gewapende verdagtes het veiligheidswagte oorrompel en ‘n vuurwapen en twee selfone gesteel. Een van die veiligheidswagte het later aan skietwonde beswyk. Op 5 Mei het ‘n multi-dissiplinêre polisiespan inligting ontvang en ‘n Hyundai Staria op die R81 in Giyani onderskep. Beslag is gelê op vier ongelisensieerde vuurwapens, 95 rondtes ammunisie en eiendom wat vermoedelik gesteel is. Ses van die sewe verdagtes is burgers van Lesotho. Die polisie se ondersoek het onthul dat twee van die selfone wat in die voertuig gevind is, aan veilgiheidsbeamptes behoort. Ballistiese toetse het twee van die vuuwapens aan nog sake in Giyani en Welkom gekoppel.

Sake van moord, roof, aanranding, besit van ongelisensieerde vuurwapens en die onwettige besit van ammunisie, asook die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en oortreding van die immigrasiewet word ondersoek.

Verdere aanklagte word nie uitgesluit nie en die ondersoek duur voort.