Sigbaarheid opgeskerp ná 2 afsonderlike voorvalle by Deer Park

Lees ook :

Foto: VF Plus Raadslid Emre Uygun

WES-KAAP. – SANParke het sy sigbare teenwoordigheid in die Deer Park-gebied van die Tafelberg Nasionale Park opgeskerp ná twee afsonderlike voorvalle wat die afgelope week daar plaasgevind het.

Volgens SANParke het ’n voorlopige ondersoek, saam met inligting van die polisie, bevestig dat die slagoffer van die voorval op 8 Julie snywonde aan sy arm opgedoen en sy enkel verstuit het tydens ’n worsteling met sy aanvaller. Die ondersoek duur voort.

In die tweede voorval, wat op 13 Julie by die Deer Park-washuis plaasgevind het, dui voorlopige inligting daarop dat ’n hawelose persoon betrokke was. Die slagoffer en die twee verdagtes ken mekaar glo en is almal bekend in die gebied. SANParke sê sy beamptes het die slagoffer opgespoor, hom van voedsel voorsien en gehelp om na ’n veilige plek terug te keer.

SANParke ondersteun die polisie met die ondersoeke en sal voortgaan om waar moontlik bystand te verleen.

VF Plus veroordeel gewelddadige aanvalle op Tafelberg

Emre Uygun

VF Plus-raadslid: Stad Kaapstad

14 Julie 2026

Die voortgesette rooftogte en gewelddadige aanvalle op stappers op Tafelberg vereis nou daadwerklike optrede.

In die afgelope maand is twee messteekvoorvalle binne een week aangemeld.

Laat gistermiddag (13 Julie) is nóg ’n man by Deer Park, naby die Platteklip-washuise op die laer hange van Tafelberg, beroof en met ’n mes gesteek. Dit volg kort op ’n aanval verlede Woensdag, toe ’n predikant deur ’n groep mans beroof en in die arm gesteek is.

Hierdie voorvalle is uiters kommerwekkend en beklemtoon die ernstige veiligheidsrisiko waaraan stappers en besoekers by een van Suid-Afrika se bekendste toerismebestemmings blootgestel word.

Die VF Plus verwelkom die multidissiplinêre operasies van die polisie, Sanparke en die Stad Kaapstad se wetstoepassingsagentskappe.

Tog duur die aanvalle voort, ondanks ’n gesamentlike operasie wat Sondag op Tafelberg uitgevoer is. Dit onderstreep die noodsaaklikheid van ‘n meer intelligensiegedrewe optrede om die aanvallers te identifiseer, op te spoor en voor die gereg te bring.

Die situasie word verder vererger weens die groot aantal internasionale toeriste wat maandeliks Tafelberg en Seinheuwel besoek.

Baie van hulle is nie bewus van die veiligheidsrisiko’s nie en in talle gevalle verkies slagoffers om nie ‘n klagte aanhangig te maak nie.

Dit beperk die polisie se vermoë om sterk sake teen herhaaldelike oortreders te bou en beklemtoon die behoefte aan meer geteikende operasies.

Die VF Plus doen ’n beroep op alle rolspelers om hul pogings te verskerp en diegene wat vir hierdie misdade verantwoordelik is, voor die gereg te bring.

Die party versoek ook dat duidelike en toeganklike veiligheidsinligting aan besoekers beskikbaar gestel word by die Kaapstad Internasionale Lughawe en dat buitelandse ambassades ingelig word sodat toeriste die nodige voorsorgmaatreëls kan tref.

Verder doen die VF Plus ’n beroep op stappers, drawwers en bergfietsryers om waaksaam te bly, waar moontlik nie alleen te stap nie, gewilde roetes te gebruik en enige verdagte optrede onmiddellik aan te meld.

Stappers word aangemoedig om by die Take Back Our Mountains-WhatsApp-groep aan te sluit om misdaad of verdagte bedrywighede vinnig aan te meld.

Belangstellendes kan raadslid Emre Uygun kontak.

Belangrike noodnommers:

• Algemene noodnommer: 021 480 7700

• Wilderness Search and Rescue (WSAR): 021 937 0300

Besoekers word ook aangemoedig om die Stad Kaapstad se nooddienste-toepassing af te laai.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief