Terwyl baie mense gedurende die wintermaande griep opdoen en binne ‘n paar dae met rus herstel, waarsku ER24 dat die virus in sommige gevalle tot ernstige longontsteking kan lei. Die nooddiens sê mense moet let op tekens dat hul toestand besig is om te versleg en nie bloot aanvaar dit is net griep nie.
Die grootste verskil is dat griep hoofsaaklik ‘n virusinfeksie van die boonste lugweë is, terwyl longontsteking die longe self aantas en asemhaling beïnvloed. Hier is die belangrikste simptome wat die twee onderskei:
| Griep | Longontsteking |
|---|---|
| Skielike koors en kouekoors | Hoë koors wat aanhou of terugkeer |
| Hoofpyn | Borspyn, veral wanneer jy asemhaal of hoes |
| Lyfseer en spierpyne | Kortasemheid of moeilike asemhaling |
| Moegheid en uitputting | Vinnige of swaar asemhaling |
| Seer keel | Aanhoudende hoes met slym |
| Droë hoes | Lae suurstofvlakke (blouerige lippe of vingerpunte) |
| Loop- of toe neus | Verwarring, veral by ouer mense |
Wanneer kan griep in longontsteking verander? Wees op jou hoede wanneer:
- jy eers begin beter voel, maar dan weer skielik erger word
- jou koors terugkeer
- jou hoes erger word of jy slym begin ophoes
- jy borspyn ontwikkel of
- jy begin sukkel om asem te haal
Dit kan daarop dui dat ‘n longinfeksie ontwikkel het.
Soek onmiddellik mediese hulp indien iemand:
- kortasem is of moeilik asemhaal
- borspyn ervaar
- verward raak of baie slaperig is
- bloed ophoes
- flou word of ineenstort of
- blouerige lippe of vingerpunte ontwikkel
By jong kinders sluit waarskuwingstekens onder meer moeilike asemhaling, die intrek van die borskas tydens asemhaling, swak voeding, lusteloosheid, minder nat doeke en stuiptrekkings in.
Kortliks beteken dit griep kan jou baie siek laat voel, maar jy kan gewoonlik nog redelik asemhaal. Longontsteking raak die longe en maak dit moeilik om genoeg suurstof in te kry. Christiaan Kilian, ‘n gevorderde lewensondersteuningsparamedikus van ER24 in Pretoria, sê griep tas hoofsaaklik die boonste lugweë aan, terwyl longontsteking die longe besmet en dit moeiliker maak vir die liggaam om genoeg suurstof op te neem.
Volgens hom is asemhalingsprobleme een van die belangrikste tekens dat iemand dringend deur ‘n mediese praktisyn ondersoek moet word. Hy sê mense moet veral bekommerd wees indien hulle ná ‘n aanvanklike verbetering skielik weer koors ontwikkel, erger begin hoes, borspyn ervaar of kortasem raak. Dit kan daarop dui dat ‘n tweede infeksie, soos bakteriële longontsteking, ontwikkel het. Volgens Kilian is bejaardes, jong kinders, swanger vroue en mense met onderliggende gesondheidstoestande soos asma, chroniese longsiekte, hartsiekte, diabetes of kanker die kwesbaarste vir ernstige komplikasies. Rokers, mense wat damprook en persone met vetsug loop ook ‘n groter risiko.
ER24 raai mense aan om hulself jaarliks teen griep te laat inent en indien hulle daarvoor kwalifiseer, ook die longontsteking-entstof te ontvang. Goeie higiëne, voldoende rus, genoeg vloeistowwe en die behoorlike bestuur van chroniese siektes kan volgens die nooddiens help om die kans op ernstige komplikasies te verminder. Kilian sê dit is altyd beter om vroeg mediese hulp te kry as daar twyfel bestaan oor die erns van simptome, eerder as om te wag totdat die toestand kritiek raak.
Bron: ER24-mediaverklaring (12 Junie 2026)
Raadpleeg ‘n dokter in die geval van siekte.





