WES-KAAP. – Edward Ayuk, Leandre Ayuk en Yanick Ayuk is onderskeidelik deur die hooggeregshof vir onder meer mensehandel, die gebruik van dienste van ‘n mensehandel-slagoffer, lewe van die inkomste van prostitusie, ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer, gevonnis.
Edward Ayuk is tot ses keer lewenslank en 200 jaar direkte tronkstraf gevonnis. Leandre Ayuk, sy vrou, is tot 45 jaar direkte tronkstraf en Yanick Ayuk, sy broer, is verder ook tot 135 jaar direkte tronkstraf gevonnis.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê Edward Ayuk is op ses aanklagte van mensehandel, vyf aanklagte vir die gebruik van dienste van ‘n mensehandel-slagoffer, vyf aanklagte van die lewe van inkomste van prostitusie, vyf aanklagte van ontvoering en vyf aanklagte van ernstige aanranding, besit en konfiskering van dokumente en handel in dwelms skuldig bevind. Hy sal uiteindelik ‘n lewenslange vonnis in die tronk uitdien.
Leandre Ayuk is op drie aanklagte van mensehandel gevonnis en sal ‘n tydperk van 15 jaar direkte tronkstraf uitdien.
Yannick Ayuk is ook op drie aanklagte van mensehandel, drie aanklagte vir die gebruik van dienste van ‘n slagoffer van mensehandel, drie aanklagte van lewe van winste van prostitusie en drie aanklagte van ontvoering gevonnis. Hy sal ook direk 15 jaar tronkstraf uitdien.
Al drie is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. Hulle het jong, arm, werklose vroue met dwelmprobleme uitgebuit. Vier van die slagoffers was van Matjieskloof, Springbok. Twee van die slagoffers was van Oos-Londen en Gqeberha onderskeidelik.
Op 12 September 2017 is ‘n deurbraak gemaak toe die polisie na ‘n jong vrou wat glo ontvoer is, gesoek het en haar aangehou in ‘n kamer in die agterkant van ‘n huis aangetref het.
Altesaam 25 persone het vir die staat getuig. Die slagoffers sou by die gehuurde huis van Edward Ayuk te Piet Groblerstraat 26 in Brooklyn aankom, waar hulle as prostitute teen betaling laat werk is. Rekord is van die aantal kliënte en registrasienommers van voertuie gehou. Die slagoffers het dwelms in ruil vir hulle dienste ontvang. Hulle het egter geen geld ontvang nie, maar klere en basiese benodigdhede is voorsien. Indien slagoffers wou ontsnap, is hulle aangerand.
Die drie veroordeelde misdadigers het onskuldig gepleit en gesê die aanklagte teen hulle is deur die slagoffers onder die invloed van polisielede gefabriseer. Edward Ayuk het op 19 Augustus 2017 ‘n saak van beweerde gewapende roof en voertuigkaping teen Zain Samuels by die Maitland-polisiestasie aangemeld. Samuels is die broer van sers. Felix wat glo volgens die drie gehelp het om die aanklagte teen hulle te fabriseer. Ayuk en sy medebeskuldigdes het gesê die aanklagte teen hulle was slegs sodat hulle nie met die klagte teen Zain sou voortgaan nie en het gevra vir ontslag van al die aanklagte teen hulle.
Adv. Maria Marshall en adv. Saarah Buffkins het die aansoek gedeeltelik suksesvol teengestaan. Die twee broers is op ‘n paar klagtes vrygespreek, maar Leandre Ayuk was onsuksesvol met haar aansoek.
Die vervolgingspan – AO Pamplin en kapt. Mpayipeli – is vir die suksesvolle afhandeling van die saak geprys.





