Skaakmat! JANStyl 2025 beloof ’n aand van glans en styl

Lees ook :

KAAPSTAD. – JANStyl is vanjaar terug en beloof om ’n skouspelagtige aand van mode, kreatiwiteit en gemeenskapsbetrokkenheid by die Hoërskool Jan van Riebeeck te wees.

JANStyl is ‘n glansaand, aangebied deur die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kloofstraat, Kaapstad, waar deelnemers meeding in afdelings soos ontwerp, modellering, fotografie en openbare spreekkuns. “Dit neem die vorm aan van ‘n modeparade,” sê Dorette Louw, organiseerder van dié aand.

“Wat hierdie jaar se JANStyl nog meer spesiaal maak, is die betrokkenheid by ’n liefdadigheidsorganisasie. Deelnemers het gesamentlik Ladles of Love gekies. Fondse wat die aand ingesamel word, sal direk aan dié organisasie geskenk word om hulle missie te ondersteun: die voorsiening van gesonde etes aan kinders en mense in kwesbare gemeenskappe.

JANStyl is nie ’n nuwe verskynsel nie. Dit is reeds sedert 1993 ’n trotse tradisie. “Interessant genoeg was een van die ouers wat vanjaar op die komitee dien, Charlotte Marais, juis ’n matriekleerling en deel van die oorspronklike komitee wat die eerste JANStyl aangebied het,” vertel Dorette.

Skaakmat!

Die tema vir JANStyl 2025 is Skaakmat! – ’n kreatiewe spel van swart en wit, groot kontraste en dramatiese eenvoud. Dekororganiseerder Riana Viljoen verduidelik dat die tema gekies is om maksimum impak te lewer en terselfdertyd deelnemers aan te moedig om hul persoonlikheid uit te druk deur wat hulle dra – in lyn met die skool se leuse: Wees Jouself.

Net soos elke jaar, neem slegs graad 11-leerlinge deel aan die kompetisie. Hierdie jaar is daar 24 deelnemers: 16 meisies en 8 seuns, wat individueel meeding, maar soms in pare die loopplank deel.

Nog ’n hoogtepunt is dat twee van die skool se eie graad 11-leerlinge, Monique de Beer en Logan Hoogbaard, as seremoniemeesters gaan optree – die eerste keer dat leerlinge self die aand aanbied.

Wat wag op die gehoor?

Toeskouers kan uitsien na ’n topklas modeparade met professionele beligting en musiek, asook deelnemers wat vooraf afrigting ontvang het van internasionale modelagentskappe.

Elke deelnemer sal ook ’n selfontwerpte hoed dra wat uit herwonne materiaal gemaak is – met leiding van mode-ontwerper Lara Klawikowski en hoedemaker Crystal Birch. Daar is pryse vir die mees uitstaande deelnemers, insluitend persoonlikheid, die mees fotogeniese deelnemer en natuurlik die gehoor se gunsteling. Om die glans en pret verder uit te brei, kry selfs die gehoor die kans om deel te wees. Daar is ook ‘n prys vir die toeskouer wat die beste aangetrek is volgens die tema.

Beoordelaars en pryse

Die beoordelaars word stelselmatig deur die loop van September bekend gemaak via sosiale media – elke Maandag en Vrydag twee nuwe name – wat sorg vir ’n element van verrassing. Volg die Hoërskool Jan van Riebeeck se Facebook en Instagram om op te hoogte te bly van dié aankondigings.

Meer as 30 borge dra vanjaar by met pryse wat wissel van restaurant-geskenkbewyse tot modebykomstighede en pamperlang-items. Aan die einde van die aand word een seun en een meisie as die groot wenners aangewys.

Hoogtepunt op skoolkalender

Die geleentheid is ’n hoogtepunt op die skoolkalender en word veral deur leerlinge, hul ouers en families bygewoon. Tog is dit ook oop vir die wyer gemeenskap – ’n gulde geleentheid om mooi aan te trek, saam te eet en die talent van jong mense te bewonder.

Kaartjies en geskiedenis

Waar: Hoërskool Jan van Riebeeck
Adres: Kloofstraat 129, Tamboerskloof, Kaapstad (Skoolsaal)
Wanneer: Donderdag, 2 Oktober 2025
Tyd: 19:00 – 22:00 (etes beskikbaar vanaf 17:30)
Drag: Trek aan volgens die tema!

Kaartjies is beskikbaar via die Karri-toep vir gesinne wat deel van die skoolgemeenskap is en kan ook op die aand self by die saaldeure gekoop word.

JANStyl 2025 beloof om nie net ’n aand van glans en mode te wees nie, maar ook ’n herinnering aan die krag van gemeenskap, kreatiwiteit en medemenslikheid. Maak seker jy mis dit nie – dit gaan ’n skaakmat van styl en hart wees!

Klik hier vir die spyskaart. Klik hier vir die wynlys. Vir meer inligting, kontak die skool by 021 423 6347 of [email protected].

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief