VRYSTAAT. – Menslike oorskot en klere is Maandag deur die polisie in ‘n puttoilet gekry nadat Puleng Motlodi (19) in Oktober 2023 as vermis by die Selosesha-polisiestasie aangemeld is. Haar familie het in Julie 2023 laas met haar kontak gehad.
Twee verdagtes, van wie een op parool vir roof was en daarna weer vir beweerde inbraak in hegtenis geneem is, is nou ook op aanklag van ontvoering en moord in aanhouding. Nog twee verdagtes word deur die polisie gesoek.
Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die polisie het inligting oor Motlodi se verdwyning opgevolg, waarna menslike oorskot in die puttoilet in Selosesha gekry is. ‘n Verdagte (36) in die saak is opgespoor en ondervra. Tydens ondervraging het dit aan die lig gekom die verdagte en drie ander mans het glo vir Motlodi in Sone 3 ontmoet. Na bewering het een van die mans (40), die “leier” van die groep (die individu wat op parool was en weer op ‘n ander aanklag in hegtenis geneem is), vir Motlodi geken en het die ander mans beveel om haar te gryp, waarna sy na Sone 5 ontvoer is.
Met die gebruik van alkohol en dagga het die “leier” glo aggressief geraak en Motlodi is verwurg. Haar liggaam is daarop deur die “leier” en die verdagte tot by die toilet gerol. Die verdagte wat ondervra is, het die polisie na die huis in Sone 5 gelei en die toilet uitgewys. ’n Swart windbreker, ’n trui en vroulike onderklere is tussen die riool gevind. Die polisie het ook op ledemate en ’n menslike skedel afgekom en die oorskot vir verdere ondersoek ingesamel.
Covane sê voorts die oorspronklike vermiste persoon-dossier is na ’n saak van ontvoering en moord verander. Daar word verwag dat nog twee verdagtes binnekort in hegtenis geneem sal word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





