DUBAI. – Iran het Woensdag op ’n houerskip in die Straat van Hormoes losgebrand, wat weer die risiko’s vir kommersiële skepe in een van die wêreld se belangrikste energieroetes beklemtoon. Dit kom terwyl beplande gesprekke oor ‘n skietstilstand tussen Teheran en die VSA in Islamabad skipbreuk gely het en president Donald Trump die bestaande skietstilstand verleng het.
Die voorval volg op ’n vroeëre aanval waarin ’n houerskip sowat 15 seemyl noordoos van Oman deur ’n gewapende vaartuig van die Iranse Revolusionêre Wagkorps (IRGC) aangeval is. Ernstige skade is aan die skip se brug veroorsaak.
Die Britse militêre moniteringsliggaam, die United Kingdom Maritime Trade Operations Centre (UKMTO), het berig dat ’n tweede skip kort daarna ook onder skoot gekom het, maar dat geen skade aangemeld is nie. Volgens BBC Verify is die geteikende houerskip die Epaminondas, wat deur ’n Griekse maatskappy besit word. Data van MarineTraffic dui daarop dat die skip nie ’n opspoorbare sein uitgesaai het tydens sy deurgang deur die seestraat nie.
Die organisasie waarsku dat daar tans ’n hoë vlak van aktiwiteit in die Straat van Hormoes is en moedig skepe aan om enige verdagte optrede onmiddellik aan te meld.
Bronne: North Shore News, NBC News, BBC





