MPUMALANGA – Skole in die Bosbokrand- plaaslike munisipale gebied gaan vir Donderdag en Vrydag tydelik gesluit wees weens aanhoudende swaar reën wat paaie onbegaanbaar gemaak het.
Die departement van onderwys in dié provinsie sê in ‘n sosialemediaplasing ‘n vergadering is Woensdag met distriksdirekteure en kringbestuurders gehou om die impak van die reënval op skole in die provinsie te bespreek. Daar is bevind dat die meeste skole in die Nkangala- en Gert Sibande-distrikte sonder groot probleme heropen het, maar dat sommige skole in die Bohlabela-distrik nie vir alle leerlinge en onderwysers veilig toeganklik is nie. Alhoewel sommige leerlinge en onderwysers by skole kon uitkom, het ander gesukkel weens oorstroomde en gevaarlike paaie. Daarom het die departement besluit om die tydelike opskorting toe te pas om veiligheid te verseker.
In die Ehlanzeni-distrik word skoolhoofde gemagtig om self te besluit of skole veilig kan funksioneer. Die departement beklemtoon dat ouers en leerlinge nie oor oorstroomde riviere of gevaarlike paaie moet beweeg nie en dat veiligheid altyd die hoogste prioriteit moet geniet.
Die departement sal die situasie deurlopend monitor en verder advies gee indien dit nodig is.





