KWAZULU-NATAL. – ‘n Skool in Thompsonlaan, Verulam, is glo Dinsdagmiddag deur twee gewapende verdagtes van geld en ‘n skootrekenaar beroof.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê reaksiebeamptes is omstreeks 13:30 vir hulp ontbied. Met aankoms by die skool is hulle ingelig twee verdagte mans in blou denimbroeke en wit T-hemde het die skoolperseel te voet betree en is na die sekretaresse se kantoor waar hulle vuurwapens te voorskyn gebring het. Die skool is van ‘n onbekende bedrag fondsinsamelingsgeld en skoolfonds, asook ‘n skootrekenaar, beroof. Die verdagtes het daarna te voet oor die parkeerarea gevlug.
Niemand het beserings opgedoen nie.
Kol. Robert Netshiunda sê aan Nuusflits die Verulam-polisie het ‘n dossier vir sakeroof geopen. Na bewering was ‘n werknemer van die skool aan die geld tel, wat deur twee gewapende verdagtes geëis is. Hulle het daarna van die toneel gevlug.






