VRYSTAAT. – Maneo Malebo (57), ‘n onderwyser, Puleng Ramakhaleng (38), ook ‘n onderwyser, en Palesa Malebo (35), wat glo die plaasskool Harmonia in die Ficksburg-area se skoolfonds gesteel het, is Maandag op borg vrygelaat.
Kapt. Loraine Earle sê die drie beskuldigdes is Vrydag op aanklagte van bedrog en diefstal van skoolfondse in hegtenis geneem. ‘n Ondersoek is Vrydag deur die provinsiale kommersiële misdaadondersoekeenheid oor bewerings van skoolfondse wat vir persoonlike gewin gebruik word, gedoen. Die beskuldigdes is ná die ondersoek gearresteer en oor die naweek aangehou, waarna hulle Maandag in die Ficksburg-landdroshof voorgekom het. Elk van die drie beskuldigdes is op R2 000 borg vrygelaat.
Die saak is vir verdere ondersoek en nog moontlike arrestasies tot 17 Maart uitgestel.





