GAUTENG. – Die skoolhoof (51) van Laerskool Primrose Hill is vanoggend in ‘n skietvoorval by die skool gewond. ‘n Gr. 6-leerder (13) is in hegtenis geneem.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi sê die skoolhoof is vir mediese behandeling na ‘n plaaslike hospitaal geneem.
Nevhuhulwi sê die motief vir die skietvoorval is onbekend en word ondersoek. Daar sal ook vasgestel word waar die vuurwapen, waarop beslag gelê is, vandaan kom.
Die tiener sal na verwagting binnekort vir ‘n aanklag van poging tot moord in die Germiston-landdroshof verskyn.
Steve Mabona, die woordvoerder vir die onderwysdepartement in die provinsie, sê Matome Chiloane, die LUR van onderwys in die provinsie, is verpletter deur die voorval.
Na bewering het die hoof leerders in die voorportaal sien sit en hulle opdrag gegee om hulle werkboeke vir studie uit te haal. Die betrokke leerder het glo iets onhoorbaars gemompel en is blykbaar deur die skoolhoof geïgnoreer. Die hoof het die leerder glo later by die personeelkamer gesien, waarna hy geskiet is.
Daar is met die skoolhoof na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas. Hy is besig om van sy skietbeserings te herstel.
Mabona sê die vuurwapen behoort na bewering aan die leerder se pa.
Sielkundige ondersteuning sal onder meer aan die skool gebied word.
“Indeed, we are taken aback by the nature of this incident and the manner in which it occurred, and we discourage such acts of misconduct at our schools. We will be invoking necessary disciplinary action against the learner, while also monitoring the principal’s condition to ensure that he returns to full health. Our plea is for parents to not refrain from instilling discipline in their children,” sê LUR Chiloane.
Volg Nuusflits se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.





