LIMPOPO. – Cornelius Sebothoma (51) het op ‘n aanklag van seksuele aanranding van ‘n gr. 12-meisie (17) in die Polokwane-landdroshof voorgekom en borg van R3 000 toegestaan.
Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die voorval het omstreeks 11:00 op 16 Augustus by ‘n skool in die Lebowakgomo-polisiëringsarea plaasgevind. Die tienermeisie se selfoon is in skooltyd deur ‘n onderwyser ingeneem en aan die skoolhoof oorhandig omdat sy daarmee gespeel het.
Die leerling is op die betrokke dag na die skoolhoof se kantoor om die selfoon terug te kry. Sy het glo ‘n paar keer probeer om die hoof in die hande te kry, maar hy was nie beskikbaar nie.
Sy is die Saterdag terug skool toe om haar foon te kry. Na bewering het die skoolhoof gesê sy moet alleen gaan. Die meisie het ‘n vriend(in) saamgeneem, wat buite die kantoor gewag het. Die skoolhoof het haar na bewering seksueel in die kantoor aangerand.
Sy het dit aan haar familie vertel en ‘n saak is Woensdag by die polisie aanhangig gemaak, waarna dit vir ondersoek aan eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) toegewys is. Die skoolhoof is dadelik in hegtenis geneem en aangekla.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 20 Oktober uitgestel.
Mashudu Malabi-Dzhangi, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die beskuldigde het vlugtig in die hof verskyn, waartydens die borgtog vir die skedule 1-misdaad toegestaan is. Borgvoorwaardes bepaal die skoolhoof mag nie met die staatsgetuie of die polisie se ondersoek inmeng nie. Hy mag ook nie ‘n skedule 1-oortreding pleeg nie en moet alle hofverrigtinge bywoon. Indien hy nie borgvoorwaardes nakom nie, sal die borg teruggetrek word en die R3 000 wat hy betaal, aan die staat verbeurd verklaar word.





