NOORDWES. – ‘n Vrou van Gauteng wat glo teen haar wil in Mmabatho aangehou is en R1 miljoen van haar pensioenfonds in ‘n beweerde romanse-slenter aan haar “kêrel” oorhandig het, is Saterdag gered. Sy het hom op Facebook ontmoet en is deur die Valke by ‘n huis in Mmabatho gered, terwyl Nasifu Besigye (39) en Laban Mucwa (53) vir beweerde bedrog in hegtenis geneem.
Lt.kol. Tinyiko Mathebula sê die polisie het inligting ontvang oor die vrou wat aangehou word, met die beoogde doel om uit haar pensioenfonds te onttrek. Die polisie het die inligting ondersoek en die adres waar sy glo gehou is, besoek. By die huis het hulle die vrou saam met die twee Ugandese verdagtes aangetref. Volgens rapportering het haar “kêrel” haar na Mmabatho gelok. Daar is sy glo in ’n gebedskamer gedwing om “met haar voorouers te praat” sodat haar pensioen verdubbel kon word. Sy is daarna na die bank geneem waar sy R1 miljoen onttrek en aan haar “kêrel” gegee het.
Die verdagtes het Maandag op aanklagte in die Mmabatho-landdroshof verskyn en is steeds in aanhouding. Die saak is uitgestel tot 31 Maart sodat ’n tolk beskikbaar kon wees.





