Brekende Nuus
Weer

Kouefront vir volgende week voorspel

Foto: Ter illustrasie

Gure weersomstandighede met moontlike swaar reën, sterk winde, hael en sneeu word vir volgende week vir dele van Suid-Afrika voorspel.

Meteoroloog Annette Botha van Vox Weather sê ’n kouefront sal die land na verwagting teen Woensdag 2 September nader, terwyl ’n laagdrukstelsel hoog in die atmosfeer moontlik van die normale westelike lugvloei kan afsny. Dit kan tot ’n sogenaamde afsnylaag lei wat stadiger beweeg en die weerstelsel kan versterk. Volgens Botha is daar tans ’n moontlikheid van ligte sneeu oor dele van die suidelike Drakensberg en Lesotho, maar sy waarsku dat sneeuvoorspellings so ver vooruit aansienlik kan verander.

Die stelsel kan van ongeveer 3 tot 6 September ook betekenisvolle reën oor dele van die Kaap bring. Sterk tot skadelike winde, groot deinings en baie rowwe seetoestande word ook dopgehou, terwyl swaar reën die risiko van plaaslike oorstromings kan verhoog. Botha sê die wind kan een van die grootste risiko’s wees, veral oor blootgestelde dele van die westelike binneland en langs die kus.

Vox Weather beplan om Maandag ‘n meer gedetailleerde voorspelling te maak. Botha sê daar is tans geen rede tot paniek nie, maar die ontwikkeling van die weerstelsel moet die komende dae dopgehou word.