NOORD-KAAP. – Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het ’n tussentydse hofbevel van die Spesiale Tribunaal bekom om drie eiendomme ter waarde van ongeveer R8,4 miljoen te bevries. Die eiendomme is gekoppel aan die beweerde plundering van ongeveer R26,96 miljoen uit die Noord-Kaapse departement van gesondheid tydens ’n kontrak vir persoonlike beskermingsmateriaal (PPE) tydens die Covid-19-pandemie.
Volgens de SOE verbied die bevel die respondente om die eiendomme in Kimberley en Bryanston te verkoop, of andersins daarmee te handel. Die doel is om die staat se finansiële verliese van die beweerde bedrog en wanadministrasie te herstel. Ondersoek het vals fakture, onmiddellike private gebruik van fondse, die gebruik van geld vir die aankoop van eiendomme, motorvoertuie, skoolgeld en luukshede, asook kontantonttrekkings, aangedui.
Die ondersoek behels 50 000 oorpakke, 250 000 chirurgiese maskers en nog 250 000 maskers wat gelykstaande is aan die N-95-masker. Die totale waarde van die kontrak beloop R26,960,025 en is bedoel vir gesondheidsdienste van die hele provinsie.
Hierdie ondersoek is deel van ’n presidensiële bevel om alle vorme van korrupsie en wanadministrasie in staatsondernemings te ondersoek. Enige kriminele bewyse wat tydens die ondersoek gevind word, word na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys.
Druk hier om meer te lees.





