Son en sout

Lees ook :

Vitamien See is goed vir die siel en my dwaal ervaring het my geneem vir ‘n wegbreek na die prentjiemooi Yzerfontein aan die Weskus.

Dit is hier waar ek, in my soeke na akkommodasie, SALT Bungalow ontdek het. SALT Bungalow is veel meer as net ‘n vakansiehuis. Dié akkommodasie bestemming is gewaarborg om jou met ‘n luukse, dog gemaklike warmte te verwelkom.

Toevlugsoord

Yzerfontein se sjarme lê in sy ongerepte strande, veldblomme en lewendige gemeenskap. Die dorp spog met die langste ononderbroke strand langs die Suid-Afrikaanse kuslyn. Hierdie 16-Myl Strand bied heerlike aktiwiteite soos visvang, staproetes en wynproe. Hierdie klein Weskus hawedorp, propvol plaaslike besienswaardighede en sy inwoners se gasvryheid, is ‘n moet-besoek bestemming vir enige besoeker, plaaslik of van die buiteland.

SALT Bungalow weerspieël die hart en siel van Yzerfontein se kus-sjarme. Onder die vaardigheid van Desna en Peter Richardson omarm die bungalow met sorgvuldige aandag ‘n harmonieuse mengsel van rustieke en kontemporêre ontwerp die besoeker.

Desna is ook die eienaar van die bekende SALT Yzerfontein-boetiek. SALT Yzerfontein-boetiek is ‘n dekor-, geskenk- en kledingboetiek wat onder Desna se bestuur ‘n geliefde besienswaardigheid geword het in Yzerfontein.

My dwaalspoor het ‘n toevlugsoord gevind by die gewilde SALT Bungalow. Om die mooi van SALT Bungalow te beskryf is nie ‘n maklike taak nie en ‘n besoek en eie opinie is al wat regtig die beskrywing sal regverdig.

Unieke elemente

Die pragtige ontwerp van SALT Bungalow bied gaste ‘n ontspanne wegbreek in ‘n omgewing wat spreek van elegansie. ‘n  Herwinde voordeur uit ‘n ou Duitse huis in Namibië dien as ‘n fokus punt en bekoor die dwaler met ‘n stukkie geskiedenis.

Met sorgvuldige aandag en unieke elemente wat moeiteloos vervfynd voorkom, slaag Desna en Peter daarin om ‘n ruimte te skep wat die dwaler verwelkom. Hier kan die dwaler weer daardie persoonlike konneksie ervaar. Families kan mekaar her-ontdek en die dwaler kan weer die natuur waardeer.

Die donker betonvloere voeg ‘n tikkie industriële styl by, perfek aangevul deur rou houtelemente. Die dubbelhoogte plafonne laat die ruimte oorloop van lig en skep ‘n atmosfeer wat beide ruim en verwelkomend is.

Twee slaapkamers, een bo en een onder straal ‘n luukse gemak uit. Vanuit die boonste kamer, ‘n loft-slaapkamerontwerp, het die gas ‘n pragtige uitsig oor die oseaan. Beide kamers het ‘n gemaklike aan-suite badkamer en die dekor is ‘n duidelike toonbeeld van Desna se goeie smaak. Die kombuis spreek van eienaars wat bekend is met reis en presies weet wat wat die dwaler nodig het. ‘n Tikkie, of meer, persoonlikheid vertel ook van die eienaars se liefde vir ontwerp en die hospitaliteit industrie.

Die leefarea is goed ingerig met ‘n kaggel vir die koue kus-winter aande. Bordspeletjies om die eetkamer tafel kan ‘n ideale gesinsprentjie skets.

‘n Lieflike dek buite area, met ‘n klein swembad vir afkoel en ‘n buite braai loop uit die leefarea. Hier word die dwaler verras met ‘n buite stort wat ‘n slim toevoeging tot die gas se gemak is. Perfek om sanderige voete af te spoel na ‘n dag op die strand.

Bou julle ‘n kerk?

Peter vertel ‘n pittige tong-in-die-kies staaltjie uit SALT Bungalow se bouproses.

“‘n Dame het een oggend vir my gevra of ons ‘n kerk bou. Teen die tyd was ek al moedeloos van al die vrae dat ek sommer ja gesê het. Sy wou dadelik weet of ons dan toestemming het en waar almal dan gaan parkeer.”

Peter vertel verder dat die dame redelik ontstoke daar weg is.

Ten slotte

SALT Bungalow spreek van kwaliteit en estetika, ‘n tuiste weg van die huis en ‘n ideale plek vir die dwaler om sy of haar skoene uit te skop. Hierdie dwaler het ‘n heerlike besoek aan Yzerfontein gehad en om te oornag in SALT Bungalow was verseker ‘n ervaring om te onthou.

‘n Asemrowende en onvergeetlike verblyf wag op die dwaler by SALT Bungalow in Yzerfontein van die oomblik wat jy deur die Birmese teek-voordeur stap.

Vir besprekings of navrae, besoek SALT Bungalow by: https://saltbungalow.co.za/

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief