KRUGER NASIONALE PARK. – ‘n Vrou het Sondagmiddag ‘n ongewone ondervinding gehad toe sy die badkamer by die Masorini-piekniekarea gebruik en ‘n slang homself mooi netjies in die toilet tuisgemaak het.
‘n Plasing oor die insident is op die blad van South African National Parks en SANParke Kruger National Park gemaak wat sê die insident het omstreeks 16:00 gebeur. Die Phalaborwa-seksieveldwagter is oor ‘n slang in die vrouebadkamer ingelig. Lede van die Phalaborwa Snake Club, wat by Sabledam was, se hulp is onverwyld deur die vrou ingeroep en die slang is as ‘n Mosambiekse spoegkobra geïdentifiseer.
Die slang het egter dieper probeer skuil en was nie meer sigbaar nie, maar die slangklublede het ‘n draagbare endoskopiekamera gehad en kon die glibberige kalant opspoor.
Nadat die toilet uitmekaargehaal is, is die 1.2 m-lange Mosambiekse spoegkobra suksesvol gevang en ongedeerd laat gaan.






